header image
Home
Die Vredesmonument in Vereeniging PDF Print E-mail
Written by Administrator   
Wednesday, 13 August 2008
Die vrede van Vereeniging Nadat die twee Boererepublieke byna drie jaar lank teen die oormag van Brittanje geveg het, het die verteenwoordigers van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje-Vrystaat van 12-17 April 1902 in Pretoria met lords Kitchener en Milner oor die sluiting van die vrede onderhandel.  Die Boere se verteenwoordigers het hardnekkig geweier om 'n vrede te aanvaar wat die onafhanklikheid van die Boererepublieke sou ontneem.  Die Britse verteenwoordigers het duidelik laat blyk dat daar geen sprake van onderhandeling oor vrede kan kom as die Boere nie bereid is  om die Republieke se onafhanklikheid prys te gee nie.  Die Boere se verteenwoordigers onder leiding van pres.  MT Steyn, waarnemende staatpresident SW Burger, generaals Botha, De Wet, De la Rey en Hertzog se houding was dat hulle geen voorstelle kon maak of aanvaar wat die onafhanklikheid van die twee republieke in gevaar sou stel nie, sonder om vooraf die volk, dit wil sê die burgers te velde te raadpleeg nie.Daar is vervolgens besluit om die aangeleentheid aan die volk voor te lê wat afgevaardigdes sou kies.  Hierdie afgevaardigdes moes op 15 Mei by Vereeniging vergader en daar besluit of die oorlog voortgesit sou word en of vrede gesluit sou word met prysgewing van onafhanklikheid .  Die twee republieke sou elkeen dertig afgevaardigdes stuur.Op 15 Mei kom die afgevaardigdes in Vereeniging byeen, nadat hulle die gevoelens van die burgers  wat hulle moes verteenwoordig deeglik getoets het. Die byeenkoms onder voorsitterskap van assistent-generaal CF Beyers sou drie dae duur.  Aan die einde van al die samesprekings  is daar besluit dat die twee regerings gemagtig kan word om met die verteenwoordigers van die Britse regering in Pretoria te onderhandel oor vrede op bepaalde voorwaardes.  Kitchener en Milner wou egter nie gehoor gee aan die versoek om die gedeeltelike behoud van onafhanklikheid nie.  Generaals Hertzog en Smuts het saam met lord Milner nou die ontwerp-vredesverdrag opgestel.   Nadat die Britse regering die vredesverdrag aanvaar het, is dit aan die afgevaardigdes voorgehou voordat hulle daaroor moes stem.  Uiteindelik sou 54 afgevaardigdes daarvoor stem en 6 daarteen. Die lede van die twee regerings het na Pretoria gereis waar die vredesverdrag op die aand van 31 Mei te Melrose-huis om vyf minute voor elf, onderteken is. 

Die oprigting van die monument

Reeds in 1930 het die idee van 'n monument wat die vrede herdenk ter sprake gekom maar daar is gevoel dat die tyd vir die oprigting van so 'n monument nog nie gereed was nie.  In 1952 met die 50-jarige herdenking van die ondertekening het dit weer ter sprake gekom.  Na voorlopige samesprekings is daar op 31 Mei 1952 op Vereeniging besluit om 'n gedenkteken op te rig wat sowel die leed en verslaendheid van die vredesmoment as die geloof, hoop en weeropstanding daarna sou uitbeeld.Na langdurige beraadslaging is 'n ontwerp van Coert Steynberg aanvaar en goedgekeur.  Die onthulling van die monument het op 10 Oktober 1961 plaasgevind. Simboliek


 

Die monumnet stel 'n jong Boerekryger voor wat erg gewond op sy linklersy lê.  Uit die wond in sy hart rys 'n simboliese figuur triomfanklik omhoog, die regterarm hemelwaarts gerig.  Die sterwende figuur is uit blou graniet gebeeldhou; die skraal, maar kragtige abstrakte figuur wat uit sy hart groei, is van vlekvrye staal, wat die simbool van geestelike suiwering en 'n gees van staal is.  Die twee figure rus op 'n hoë voetstuk. Voor is 'n geweer, 'n leë bandelier en die hoed van  die Boerekryger, alles in brons.  Dit dui op die einde van die oorlog, die vrede (wapen wat neergelê is), maar ook rou oor die verlies van onafhanklikheid (die krans). Aan weerskante van die voetstuk is die wapens van die twee republieke uitgebeitel.  Bokant die hoed en die krans is die woorde : Gewond maar onoorwonne Vereeniging 31 Mei 1902.

Die monument is in 1986 na die tuin voor die burgersentrum in Vereeniging verskuif.